Share This Post

Skep ’n kalm klaskamer

Skep ’n kalm klaskamer

Deur Jenna Swano

Notas deur ’n nie-so-kalm-nie onnie met wenke vir hoe ek vir die eerste keer in agt jaar ’n werklik kalmerende ruimte geskep het. 

’n Rukkie gelede het ek gaan sit om na te dink oor ’n besonder wilde dag aan die einde van verlede jaar saam met my Graad 5’s. Dit was ’n besige tyd van die kwartaal. Die eksamen was om die draai en ons moes druk om betyds deur die kurrikulum te kom. Ek was op my senuwees – en omdat my leerders dit kon aanvoel, was hulle soos tipiese Graad 5’s uit hulle kassies. Ek het geweet iéts moes verander. 

Navorsing toon duidelik dat angstigheid in ’n klaskamer nie bevordelik is vir leer nie. Dit beteken dat al my gejaag en gestres in ’n poging om alles klaar te kry presies die teenoorgestelde effek gehad het van dít wat ek graag wou bereik. 

Daarom het ek besluit om my nuwe klaskamer uit twee hoeke te benader: dekor en prosedures.

Klaskamerversiering

Algemene dekor

Totsiens, helder en kleurvol! Ek het die kleurpalet in my klas verdof na skakerings van blou, grys en ’n tikkie sagte geel, in ooreenstemming met wat ek voortaan my “zen natuurtema” sal noem. Ek het potplante neergesit en prente van berge opgehang – en omdat ek altyd ’n ondersteuner sal wees van die Groei-mentaliteit (“Growth Mindset”), het ek my leerders in bergklimmertjies verander en hulle vertel dat ons saam hoë bergpieke gaan uitklim. Die allerbelangrikste was dat die ruimte moes weerspieël hoe ek wil hê my leerders moet voel: kalm. 

Plakkate

Muurplakkate met inligting was ’n verdere nuttige toevoeging. Nadat ek gelees het dat té veel inligting teen die mure leerders kan oorweldig, het ek besluit om op ’n paar sleutelvaardighede te fokus wat ek graag wou hê leerders moet onthou. Hieronder tel ’n plakkaat met asemhalingsoefeninge, en een met joga-posisies. Ek het ook seker gemaak ek sluit die vyf klaskamerreëls in wat ek ’n rukkie gelede by Whole Brain Teaching gekry het. 

Klaskamerprosedures

Met die regte gevoel in die klaskamer, was dit tyd om my klaskamerprosedures te beplan. 

Stel duidelike verwagtings met natuurlike gevolge

Die belangrikste verandering wat ek aangebring het om ’n rustiger atmosfeer te probeer skep, is om seker te maak my verwagtings is baie duidelik. Wanneer duidelike verwagtings in plek is,  voel leerders veilig omdat daar konsekwente grense is met voorspelbare gevolge. 

Brené Brown, ’n navorsingsprofessor aan die Universiteit van Houston, verwys dikwels na Keuse-teorie in haar boeke en praatjies – iets waarby ek werklik aanklank vind. 

Keuse-teorie bevestig dat ons almal op ’n daaglikse basis keuses maak oor ons gedrag en dat daardie keuses gevolge het. As ’n mens kies om op ’n sekere manier op te tree, kies ons ook die gevolge wat daarmee gepaard gaan. ’n Praktiese voorbeeld: Wanneer ’n leerder kies om met ’n maat te gesels wanneer hulle veronderstel is om te werk, sal nie een van hulle se werk betyds klaar wees nie. Die natuurlike gevolg is dat hulle in pouse of na skool moet agterbly om hulle werk klaar te maak, omdat dit belangrik is dat hulle skoolwerk afgehandel moet word. Natuurlike gevolge maak dit makliker om konsekwent te wees, omdat die klem val op leerders se eie keuse en hulle vlak van beheer daaroor. Om keuses te hê en keuses te kan uitoefen het ’n geweldig positiewe invloed op klaskamergedrag. Ek probeer om deur die loop van die dag vir my leerders so veel as moontlik keuses te gee. Hulle kan byvoorbeeld kies waar hulle sit, langs wie hulle sit en soms selfs in watter volgorde hulle hulle werk wil voltooi. Dié strategie kan natuurlik net werk as daar duidelike grense is – en ’n gedeelde begrip van hoe ons wil hê dinge in die klas moet verloop. Saam met vrye keuse is daar ook die verstandhouding dat, indien my keuse iemand anders of my eie leerproses negatief beïnvloed, daar gevolge is.  

Oggendjoga

Ek is nie ’n joga-mens nie. Ek is die soort mens wat graag ’n joga-mens wíl wees, maar nooit daarby uitkom nie. Maar ’n nuwe jaar vra vir nuwe uitdagings en gewoontes – en daarom het ek besluit om elke oggend vyf jogaposisies saam met my leerders te doen. Terwyl ons elke posisie doen, sê ons saam ’n mantra op: Ek is sterk. Ek is dapper. Ek is gaaf. Ek is wys. Ek is vriendelik. Dis ’n wonderlike manier om soggens as groep bymekaar te kom en om die toon vir die res van die dag vas te lê. 

Daaglikse “incheck”

Sodra ons ons vyf minute se joga agter die blad het, is dit tyd vir ons daaglikse “incheck” om seker te maak wie het dalk sleg geslaap of wat het dalk by die huis gebeur wat ’n invloed kan hê op hoe hulle vandag gaan voel en gaan leer. 

Breinpouses en asemhaling

Breinpouses is noodsaaklik om almal in die klas (ek ook!) wakker en skerp te hou. Ons neem gereeld deur die loop van die dag kort breinpouses om seker te maak ons bly flink. Een van ons gunstelinge is om saam met ’n YouTube-video te dans (byvoorbeeld JustDance-videos of Go Noodle) of om eenvoudige meditasie- en asemhalingsoefeninge te doen, soos Cosmic Kids Yoga se tegnieke.

Die afgelope kwartaal in my nuwe en verbeterde klaskamer was beslis nie perfek nie – ons het steeds ons mal oomblikke. Maar dinge is beslis rustiger – en ten spyte daarvan dat ons tyd afstaan aan dinge soos joga, breinpouses en daaglikse “incheck”-sessies, is ons heelwat meer produktief en bereik ons meer van ons leerdoelwitte. 

Hierdie artikel het oorspronklik in Teacha! Magazine (uitgawe 3.4) verskyn. Lees die jongste uitgawe van Teacha! Magazine hier


Jenna Swano, voorheen ’n onderwyser in die informele nedersetting Imizamo Yethu in Houtbaai, maak gereeld haar hulpmiddels in haar Teacha!-winkel beskikbaar. Haar kalm-klaskamer-dekor en ander fantastiese hulpmiddels, soos ’n dagbeplanner spesiaal ontwerp vir onnies, is digitaal daar beskikbaar. Besoek die Level-Up Thinkers winkel hier.

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.